Just wanna say – Week 14

Ek het nou ook begin om ‘n toon te klap werk toe in die oggend. Dit is heerlik, veral omdat ek net ‘n katspoegie van die kantoor af bly. Die afdraande is heel aangenaam, behalwe met hakskoene, en die opdraande bergop wanneer ek dringend my bakkie moet gaan haal of huis toe gaan, is net-net ver genoeg om nie uitgeput te raak nie.

Op Maandagoggend gaan alles te heerlik… tot ek in Crownstraat aankom. Daar lê dit toe – ‘n hoop gemors wat g’n mens op ‘n nugter maag wil sien nie. Op die sypaadjie lê dit, lelike, vrot afval van iewers uit ‘n winkel of ‘n woonstel, en nie net sommer ‘n bietjie nie, ‘n miniatuur heuweltjie.

“Goed,” dink ek terwyl ek maar ‘n wye draai om dit stap. “Dit sal sekerlik deur die een aan wie dit behoort het, verwyder word en vir wie dit op ‘n stadium belangrik genoeg was om daaraan vas te hou vir ‘n tyd voor hy daarvan ontslae geraak het.”

Maandag hardloop ek huis toe om dringend my bakkie te kry. Dis in elk geval digby waar ek alewig moet parkeer by gebrek aan parkering in Crownstraat. So die paar meter maak geen verskil nie. Met die dat ek so haastig is, sien ek weinig raak.

Dinsdagoggend breek fris en vars aan en ek voel soos ‘n lentebries toe ek, met deurmekaar hare wat punt in die wind staan, maar ‘n baie wakker brein, my voete en route in die rigting van die kantoor draai. Gee my krag na kruis. Toe ek om daai hoek gestap kom, lê die bergie – nou al bietjie afgeplat en uitgesprei – op die sypaadjie vir my en loer. Intussen het die papiere wat die hoop kwytgeraak het saam met die leë melkboksies al stuk-stuk straataf hul pad gevind en dis gemors net waar jy kyk.

Ag asseblief tog mense, ons almal weet hoe dit voel wanneer ‘n hond jou swartsakke oopskeur.
Mens loer so half skaam en skuldig na daardie gemors, en dan kyk jy weg en probeer verby dit beweeg so spoedig as moontlik – net om weer terug te draai, want selfs dié gemors is mos nog joune – jou eie persoonlike maaksels. Dan tel jy dit maar met ‘n rooi gesig op want dit is wat jou ma jou sou aanraai het om te doen, en ma is altyd reg.

Wat die bergie in Crownstraat aanbetref, asook die res van die dorp – gaan staan maar met jou rooi gesig en maak die besigheid om hemelsnaam skoon, want g’n mens wat positief die dag wil ingaan, het lus om nog ‘n oggend daarin te moet vaskyk nie.

Baie dankie.

  AUTHOR
Anchen Coetzee
Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Police commander declares war on crime