Dag 17 – 17 Desember 2015 – Oppad na Bloemfontein

Die 40 km rit van vandag gaan besonders vinnig verby. Na 17 dae en 590 km, dag en nag in mekaar se geselskap, raak die groepdinamika tussen die Herdenkingsritspanlede met tye nogal “interessant“, veral as almal nie altyd heeltemal met mekaar saamstem nie. Net soos die burgers tydens die Anglo-boereoorlog duik die gedagte dat elkeen sy eie generaal is ook meermale op. Maar ten spyte daarvan het die span deurgedruk – gedryf deur dieselfde passies: geskiedenis en perde.

Daar is egter vanoggend groot hartseer en teleurstelling onder die ruiters. Fiona se getroue Arabiermerrie, Inka, was tot dusver die enigste perd wat elke hoefslag vanaf dag 1 vanaf die Voortrekkermonument af getrap het. Gisteraand het die perde uit die kamp gebreek en Inka het in drade beland. Alhoewel sy nie ernstig seer gekry het nie sal daar nie met haar gery kan word op die laaste 50 km van die 600 km rit nie.

Dit is veral Fiona wat die verlies sterk voel. Hoe verskriklik pynlik moes dit nie vir beide Boer en Brit tydens die oorlog gewees het as hul na maande van hul getroue perdekamerade afskeid moes neem nie.
Daar word vertel dat die soldate ’n mate van bewuste denkvermoë aan hul perde verleen het. Sommige het geglo hul perde het oor bykans mistieke magte beskik en sou hulle teen gevaar waarsku. Een Britse soldaat het oor sy gestorwe perd se dapperheid gesê: “One learns from the parting how close has been the comradeship.”

Waar omstandighede dit toegelaat het, is dooie perde as stoflike oorskot eerder as vleis hanteer. Toe Reitz se Malpert vrek, het die kommando die uitgeteerde karkas ook gaan besoek. In die verhaal van Bokkie in die Helde met Hoewe reeks sterf die getroue merrie van generaal De la Rey in sy arms nandat sy die hele oorlog saam met hom deurgemaak het.

  AUTHOR
Juliette Whelpton

Latest News

COMMENTS

Top