Dag 16 – 13 Desember 2015 – Rusdag in Brandfort

Vandag het die Herdenkingsritspan ‘n rusdag en terwyl die perde, wat soos konings aan die kospotte van Egipte smul, voer by Esfanè stoet geniet, het die ruiters en ondersteuners kans om die dorp te verken.

Brandfort se NG Kerkterrein is vol historiese gedenktekens. Die vrouemonument ter ere van die gestorwe vroue in die Brandfort se konsentrasiekamp gedurende die Anglo-Boereoorlog is voor die Kerkgebou. Die monument, wat ’n vrou met engelvlerke voorstel, is op 15 Desember 1906 opgerig met die leuse: “Voor Vrijheid en voor Recht”. Ook hier was ons generaals met hul ‘helde met hoewe’ in wie se hoefspore ons nou vir dae volg. Gedurende 1900 het generaal De la Rey  en De Wet in hierdie omgewing ontmoet.

Daar is ook verskeie monumente ter herdenking van die Groot Trek. Voor  die NG kerk is ’n bronsplaat op ’n groot ysterklip wat op ’n betonblad geplaas is, gemonteer. Die inskripsie op die bronsplaat lui: “Ossewatrek Herdenksteen 1938”.

By die Brandford konsentrasiekamp op die plaas Louvain, kom lede van ons span – Johan Nell; Theunis, Fiona en klein Mia van Staden; Bea, Gerhard en Cecilia Hildebrand; en Heki Beukes – in aangesig tot aangesig met dit wat diep in hul psige gewortel is. Daardie roep vanuit die verlede. Die bloed wat in hul eie are vloei.  Die smarte van die oorlog van skaars drie generasies tevore.

In die Tuin van Herinnering is ’n monument opgerig ter herinnering  aan die vroue en kinders wat gesterf het in hierdie konsentrasiekamp – ook ons ruiters se voorouers:  Johannes Nell, C van Staden, G Hildebrand, C.S. Beukes en vele ander slagoffers het hier die hoogste prys betaal.

 

  AUTHOR
Juliette Whelpton

Latest News

COMMENTS

Top