Dag 15 – 12 Desember 2015 – Brandfort

Die ruiters ry met swaar harte van tannie Ina Etzebeth se plaas weg.
In haar huisie was hul behoorlik toegevou met warmte en liefde, maar dit is veral die plaaskombuis wat moeilik is om agter te laat.

Met die reuk van koffie en varsgebakte soetkoekies is dit glad nie vreemd dat die ruiters ‘n uur na hul beplande tyd in die pad val nie. ‘n Boer hou nou maar een maal van sy koffie!

Tydens die Anglo-Boereoorlog het vele uitlanders daaroor opgemerkings gehad. So het ‘n Nederlander gesê: “een Boer zonder koffie is niet veel werd.”
Een oggend gedurende Oktober 1899 kry die burgers bevel om onmiddelik op te saal en die Britte by Modderspruit te gaan aanval. Van die burgers wat pas koffie op die kole gesit het, het eenvoudig besluit om eers hul keteltjies leeg te drink. Nie eers die naderende oormag van die vyand kon tussen hulle en hul koffie kom nie!

Die perde is vandag uitgerus en het heerlik gewei in die kamp op tannie Ina se plaas. Net voor hul die brug oor die Taaibos rivier oorsteek draai ‘n windpomp in die veld, so asof dit ‘n belofte van reën verklap.
Die weer lyk belowend en die span is vrolik. In die Taaibos rivier gewaar hul ‘n vreemde voorwerp. Die onverskrokke Heki spring van sy perd af en duik in! Kort voor lank kom hy uit met ‘n nuwe toevoeging tot die Herdenkingsritspan – ‘n ysterperd!

Net voor Brandfort besoek die span dit wat oor is van die konsentrasiekamp. Die kamp het ook bekend gestaan as Dwyersdorp, so genoem na  ‘n Ier, kaptein Dwyer, wie baie simpatie met die vroue en kinders gehad het. Op die aangrensende plaas is die oorlogsgrafte van swartmense wat ook in die omgewing in konsentrasiekampe aabgehou en gesterf het.

Johan bestuur weer vandag vir Generaal sodat Heki kans kan kry om vir oulaas met sy perd saam met die ruiters te kan ry (en in damme motorfietse uit te kan duik en ander vermaaklikheidstoertjies te kan
doen!) Die groot rooi trok waarmee Johan ry is vernoem na ‘n masiewe gevaarlike os wat tydens die oorlog aan Boerekant met die Britte afgereken het.

Wanneer die ruiters veel later by hul bestemming vir die dag, die spogplaas Esfane van Nico van der Walt, gewese slot van die Vrystaat, opdaag, wag daar ‘n onverwagse verwelkomingspan. Byna net so groot en sterk soos Generaal van ouds ontmoet die ruiters agt mak trek-osse, genaamd Voorman, Soldaat, Simson, Rooinek, Springbok, Geduld, Lapland en Trekpad.

  AUTHOR
Juliette Whelpton

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Team reaches out to the young and chosen in schools