Dag 14 – 11 Desember 2015 – Op pad na Brandford

Na 14 dae in die veld en 480 km se reis te perd, begin jy dinge wat normaalweg vanselfsprekend is as luukses waardeer. Een daarvan is skoon klere. In die stad is ons gewoond aan “een in die kas, een aan die bas en een in die was“, maar nou maak ons soos die bekende country sanger Kris Kristofferson so vol heimwee sing: “Then I fumbled through my closet for my clothes and found my cleanest dirty shirt”.

Die belangrikste is egter dat ons ruiters reg geklee is om die Vrystaatse weer te trotseer. Hulle lyk inderdaad presies soos die burgers van meer as ‘n eeu gelede in wie se spore hulle vandag ry. Anders as die Ingelse soldate wat in blink uniforms geklee was, was die enigste vereistes wat die burgers self gestel het dat die klere bruikbaar en doelmatig moet wees.

Na die uitbreek van die oorlog is vrouewerkgeselskappe op die been gebring om klere vir die burgers te maak. ‘n Britse offisier het oor die Boere se kleredrag opgemerk: “the homely muddle of a peasant’s wardrobe – tweeds of all sizes and colours, homespun and shoddy.“

Tydens die guerrillafase in 1900 was dit algemeen vir die burgers om vir maande lank in dieselfde klere te moes loop.

 

  AUTHOR
Juliette Whelpton

Latest News

COMMENTS

Top